MEER oor Amanda...
Amanda Strydom is een van Suid-Afrika se mees gevierde kunstenaars.
Amanda is nie alleen 'n sanger en kabaret kunstenaar soos die meeste mense haar ken nie, sy skryf ook haar eie lirieke en toneelstukke en is 'n bekroonde aktrise.
Sy is op 23 Julie 1956 in Port Elizabeth gebore en matrikuleer aan die Framesby Hoërskool in 1974. As kind studeer sy drama by Mari Mocke en Marlene Pieterse se "Kinderteater" en vaar uitstekend in die plaaslike Eistedfodds. Na haar skoolopleiding gaan studeer sy drama en gradueer met 'n BA Drama graad aan die Universiteit van Pretoria.
Behalwe vir haar deelname aan skoolkore, kerksang en die eggo in die badkamer van haar ouerhuis, het Amanda geen formele sangopleiding nie en kan sy ook nie 'n noot musiek lees nie.
Ná haar universiteitsopleiding word Amanda aangestel as aktrise in die hoof teatergroep van die Kaapse Provinsiale Raad vir die Uitvoerende Kunste (KRUIK) waar sy hoofrolle vertolk in "Kinkels innie Kabel" en "Die Wonderwerk". Haar vertolking van die hoofrol in die Franz Marx film, "Pasgetroud" in 1979 beland haar in die vryskut vermaaklikheidswêreld waar sy werk in teater, film, televisie, kabaret en ook as TV aanbieder, radio platejoggie en skrywer.
In 1986 veroorsaak Amanda 'n "skandaal" toe sy met gebalde vuis die swart magsteken gee tydens 'n kabaret opvoering by die Oude Libertas in Stellebosch. Sedertdien is sy dikwels in die pers aangehaal as "Amandla" Strydom.
Ná 'n afwesigheid van drie jaar van die vermaaklikheidsberoep tree Amanda in 1992 terug na die verhoog. Hierdie keer met haar eie produksies wat sy met groot sukses self skryf en opvoer, en wat wyd deur resensente aangeprys word. Haar versamelalbum, "Ek loop die pad, 20 jaar", word in 2000 vrygestel ter viering van Amanda se sangloopbaan wat toe reeds al oor 'n 20 jaar tydperk strek.
Amanda doen ook nou 'n show saam met Coenie de Villiers - Ons loop die pad.
Amanda Strydom en Coenie de Villiers is volksbesit en het as liedjieskrywers, sangers en vertolkingskunstenaars diep spore getrap in die musiekbedryf. Hulle loop ook al lank saam die pad met 'n vriendskap wat oor dertig jaar strek. Met Ons loop die pad vier hulle hierdie vriendskap en span kragte saam om liedjies uit hul groot gesamentlike repertoire te speel. Maak gereed vir kabaret, luisterliedjies, blues, ballades, jazz en rock – alles van ou bekende treffers tot splinternuwe skeppings.
Amanda se nuutste cd - Kerse teen die donker - nou beskikbaar (en nee, sy het al lankal besluit op die naam van die album... )

Amanda Strydom en Lize Beekman - SAAM
Amanda Strydom en Lize Beekman, bekende liedjieskrywers en digter-sangers, span in hierdie vertoning hul talente saam vir 'n unieke musiekervaring.
SAAM delf hulle uit hulle musiekskatkis die liedjies wat hul saam komponeer het, die liedjies van hulle nuutste albums, asook hulle treffers wat volksbesit geword het.
Daar is natuurlik ook stories te vertelle – soos net Strydom en Beekman kan.
Hul deel die verhoog met hul topmusikante : Janine Neethling (musikale regisseur, klavier en akkordeon), Floors Oosthuizen (kitaar) en David Klassen (perkussie)
Lize Beekman Vir meer inligting oor Amanda en haar optredes - besoek
www.amandastrydom.com |