Met Onthou , haar heel jongste en die 28ste album van haar musiekloopbaan, vier die veelsydige sangeres Rina Hugo haar kwarteeu in die Afrikaanse musiekbedryf.
“Dit is presies 25 jaar sedert ek ligte musiek begin sing het,” vertel Rina Hugo, wat vroeg in haar loopbaan ook rolle in musiekspele en operas vertolk het.
Onthou is 'n dubbelalbum met 'n bonus-CD waarop Hugo hulde bring aan haar jare lange vriendin, wyle Janita Claassen. “Ek onthou haar as 'n ongelooflike borrelende en positiewe mens wat baie gelag en gesels het. Tot aan die einde was sy vir my so 'n ongelooflike voorbeeld van hoe sy die lewe benader het, ondanks die swaar.”
Hugo sê haar en Claassen se stemme is baie dieselfde en daarom het treffers soos Rolbos , Meisiekind en Ballonne haar stem gepas. Sy beskryf die opname-proses as ongelooflik emosioneel. “Een oggend was ek op pad Pretoria toe na die opname-ateljee en het in die motor na die liedjies geluister. Ek het só aan die huil geraak dat ek nie die karre kon sien nie.”
Die heel laaste snit op die bonus-CD is 'n duet, Aandgesang . “Ons het my stem by hare gesit. Dit is verskriklik hartseer.”
Die Onthou -album se titelsnit is 'n nuwe liedjie uit die pen van Rudi Claase, wat al voorheen vir Hugo liedjies geskryf het. “Die liedjie se titel is eintlik Stilbaaiherinnering en die tweede snit op die album, maar toe het ons die album maar Onthou genoem. Dit pas by die tema van die twee CD's en som die gevoel mooi op.”
Onthou bevat ook 'n paar ou bekendes soos Aan die einde van die reënboog en Jy is te dierbaar , wat heropgeneem is.
As sy gevra word oor spesiale herinneringe uit haar ligte musiek loopbaan van die afgelope 25 jaar, voeg Hugo gou by dat dit moeilik is om hoogtepunte uit te sonder. Tog onthou sy die heel eerste Afrikaanse konsert in Sun City, toe sy saam met wyle Bles Bridges opgetree het.
Op die koop toe het sy Suid-Afrika tydens twee geleenthede met die Vlaamse Nasionale Sangfees in België verteenwoordig.
“My eerste goue plaat vir die album Ek sien vandag die son weer skyn , was vreeslik spesiaal, want ek het dit glad nie verwag nie. Ek het die album net gemaak vir die lekkerte.”
Hugo is met Johan van Rensburg van Noot vir noot -faam getroud nadat hulle mekaar destyds tydens hul studies in Potchefstroom ontmoet het. Van Rensburg het in 1973 'n beurs gehad om aan die Berklee College of Music in Boston in die VSA te gaan studeer. Hugo het in 1975 'n meestergraad in sang ontvang van die New England Conservatory of Music in Boston.
In 1987 het Hugo die gesogte ATKV Crescendo-kompetisie gewen. Haar veelsydigheid as sangeres spruit uit die feit dat sy in bykans alle genres wat deur 'n solis beoefen kan word, uitblink. Dit sluit in opera, oratorium, operette, musiekspele, die kunslied en ligte musiek.
Op 18 en 19 Maart sing Hugo saam met Jannie Moolman, Arina de Witt, André Schwartz, Kevin Leo en The Voices romantiese fliekmusiek in die Aula-teater in Pretoria. Die produksie, Tydloos, reis ook later na Carnival City in Brakpan.
Hugo tree later vanjaar in Bloemfontein op saam met die Bloemfonteinse Kinderkoor, dan is daar twee gospel-konserte, óók by Carnival City, en haar gereelde kerkprogramme en oggendtees.
Onthou is reeds in plaaslike musiekwinkels beskikbaar.
|