MEER oor Riaan...
Riaan van Rensburg is in een van Suid-Afrika se mees musikale families gebore en vandat hy kan onthou was musiek deel van sy lewe. Sy passie vir musiek was so natuurlik soos sy ma se klokhelder sopraanstem ...
Gelukkig het ma Rina Hugo en pa Johan van Rensburg hom altyd aangemoedig om sy musiektalent uit te leef en hulle het hom boonop gehelp om sy begeerte om mense te vermaak, deel van sy lewe te maak. Hy was maar nog ‘n klein laaitie toe hy al by sy ouers se konserte betrokke was.
Op skool het Riaan twee musiekvakke gehad waarvan klavier sy hoofvak was en klassieke perkussie sy tweede instrument. Hy was ook die trom seksieleier van sy skool se kadetorkes. Boonop het sy skool ‘n baie goeie koor gehad en Riaan het bas daarin gesing. Dié koor het twee direkteurstrofeë gewen en reeds vroeg in sy lewe het hy op dié manier ook met die kollig kennis gemaak toe hul koor landwyd getoer het en in massakore opgetree het.
Riaan was sy lewe lank ‘n kranige sportman wat veral van rugby gehou het. As voorspeler het hy in sy skool se eerste rugbyspan gespeel, maar hy het ook uitgeblink in krieket, swem én atletiek.
Deesdae hou hy homself uit die kwaad met frisbee en in 2004 het hy vir Suid-Afrika se gemengde span in die wêreldbeker in Finland gespeel. Hy speel vir die Johannesburgse span en het al gereeld in nasionale toernooie teen Kaapstad en Durban meegeding. Dié sport word Ultimate Frisbee genoem.
Ná skool het Riaan musiek aan die Pretoria Technikon gaan studeer waar hy later sy diploma verwerf het met tromme as hoofvak. Ná die drie jaar se studies het hy as vryskutmusikant begin werk – van toe af het hy meestal tromme/perkussie gespeel.
Hy het veral baie werk in die African-jazz-genre gedoen en het selfs die eer gehad om saam met baie verskillende musikante te werk – onder andere ghitaarspelers soos Louis Mchalanga, Selailo Selota en George Phiri. Hy het ook saam met sangers soos Wendy Oldfield, Kaolin Tompson, Zama Jobe en KB gespeel en ook saam met basspelers soos Musa Manzini en Jimmy Indy, klavierspelers soos Wessel van Rensburg en Sean Fourie, om maar net ‘n paar te noem ...
Riaan was boonop by talle bands betrokke en hy het hom in ‘n groot verskeidenheid style en genres bekwaam. Van die groepe waarin hy al gespeel het, was: Musik Ye Afrika (African Traditional), Khoi-Trans (Afro-Fusion), Kwacha (African), Naked (Pop/Rock), Interzone (Acid Jazz), Mondetta (World Music), Jungabeez (Electronic World Dance) en Mikanic (SA Pop).
Maar dis stééds nie al nie: In die Afrikaanse mark het hy saam met bekendes soos Pieter Smit, Dozi, Johan Stemmet, Rina Hugo, Laurinda Hofmeyer en Anton Goosen getoer.
Die afgelope tien jaar was Riaan ‘n bekende gesig agter die tromme op die gewilde televisiereeks Noot vir Noot en dáár het hy nie net die geleentheid gekry om in miljoene Suid-Afrikaners se sitkamers te gaan kuier nie, maar ook om saam met honderde bekende kunstenaars op te tree. Hy vertel graag dat hy gróót respek het vir al ons land se kunstenaars.
Een van Riaan se lewensmotto's is om dít wat hy doen, voluit aan te pak en om elke oomblik daarvan te geniet.
Hy glo sy veelsydigheid is die rede waarom hy nog nooit sonder werk gesit het nie. En die feit dat hy feitlik enige genre kan bemeester, hou sy eie musiek vars en opwindend.
Riaan het ook al sy eie band gehad waar hy en sy vennoot, die baskitaarspeler Makati Molekwa saam al hul musiek geskryf het. Die naam van die groep is Kwassa-Nkemba en Riaan en Makati het al by vele feeste regoor die land opgetree. Hulle is glad nie onbekendes in die townships en ander plekke in Johannesburg nie.
Riaan het as vryskutmusikant ook al die voorreg gehad om saam met die room van Suid-Afrikaanse musiekregisseurs te werk. Sy naam kan genoem word by talle televisie-opnames en DVD-opnames en hy het al by verskeie feeste opgetree soos die North Sea Jazz Festival, Oppikoppi, KKNK, Aardklop en Rustler's Valley.
Een van sy ander passies is om Drum Circles te fasiliteer. Hy het vir lank besighede soos Drums & Rhythm en Drum Café tussendeur al die ander goed waarmee hy homself besig hou, bestuur. Hy het in Ghana Wes-Afrikaanse Tradisionele Ritmes gestudeer en gebruik van dié ritmes in die programme.
Boonop is daar ‘n splinternuwe projek waaraan Riaan onlangs al sy aandag begin wy het: Sy heel eerste debuut solo-album is pas klaargemaak. Die meeste van die liedjies op die CD het hy self gekomponeer en hy sing en speel self die tromme. Hy het die liedjies juis so geskryf dat die klem op die ritme van die tromme val, veral omdat dit sy sterk punt is en dit die CD ‘n splinternuwe, vars klank gee. Die liedjies op die CD is in ‘n dansstyl, propvol energie belaai.
Daar is ‘n groot verskeidenheid musiekstyle op die CD te hoor en dit wissel van sokkie na sakkie-sakkie. Boonop is daar ook ‘n bietjie blues/rock en veral ‘n Latyns-Amerikaanse gevoel (``omdat daar sulke lekker ritmes soos samba, tango, cha-cha-cha en salsa is''.) En moenie van die rap vergeet nie – want as hy nie ritme agter die tromme hou nie, maak hy dit sommer met sy mond.
Die CD is deur Eric M vervaardig en word deur ASP Records vrygestel. |