MEER oor Coenie...
Coenie de Villiers is gebore en getoë in die Vrystaat waar hy sy nagraadse studies in Kommunikasie, Mediawetenskap en Bemarking aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi het. Hy het klassieke klavier en sy formele eksamen in die klawerbord deur Unisa voltooi.
Coenie word beskryf as een van die voorste liedjieskrywers en vertolkers in Afrikaans. Resensente is dit eens dat sy lirieke van ‘n wêreldklasstandaard is. Deur die jare het hy die verhoog gedeel met onder andere Sibongile Khumalo, Gloria Bosman, Sipho Gumede, Laurika Rauch, David Kramer en verskeie ander Suid-Afrikaanse kunstenaars. Op sy albums het hy al gesing saam met kunstenaars soos Brasse Vannie Kaap, Jonathan Butler, Sipho Gumede, Gloria Bosman, Amanda Strydom, Lesley Rae Dowling, Steve Newman, Kurt Darren, David Kramer, Amampondo en Karen Zoid.
In die buiteland het hy al konsert gehou in lande soos Nieu-Seeland, Kanada, Engeland, Nederland en België.
In Suid-Afrika het hy al verskeie musiekpryse gewen, wat insluit twee gesogte Suid-Afrikaanse Musiekpryse (oftewel Samas). Hy word universeel beskou as een van die uitdagendste en oorspronklikste sangers en liedjieskrywers in Suid-Afrika en steek gemaklik die grense tussen musiekgenres oor.
Sy musiekloopbaan het in die laat jare 70 begin toe hy ‘n kortspeler uitgereik het, waarvan hy die musiek deur EMI geregistreer het. Die plaat het hom ‘n Sarie-prys vir belowendste kunstenaar besorg. Omdat Coenie in die eerste plek ‘n liedjieskrywer is, het hierdie ervaring hom kreatief onvervuld gelaat en het hy besluit om nie weer ‘n plaat op te neem tensy hy totale kreatiewe beheer oor die projek het nie.
Met die begin van die jare 80 het hy vir Paddy Lee Thorp van Mountain Records ontmoet wat hom die vryheid gegee het om sy eerste album, Skoppensboer , te skryf, verwerk, vervaardig en op te neem. Die seminale album is in 1982/3 uitgereik. Die album het ‘n liedjie bevat waarvoor Pieter-Dirk Uys die lirieke geskryf het en David Kramer het ‘n duet saam met Coenie gesing. Die album het voorts opslae gemaak in die konserwatiewe, hoofstroom- Afrikaanse musiekmark met die meeste van die snitte wat uiteindelik deur die destydse SAUK verbied is.
Skoppensboer is gevolg deur Die reisiger , waarop Jonathan Butler en Steve Newman kitaar gespeel het. Die album het twee Sarie-pryse en ‘n Scotty-prys gewen. Nes met Skoppensboer was Kevin Shirley die klankingenieur. Shirley was onder andere al die produksieleier vir internasionale groepe soos Aerosmith. Coenie was weer eens die skrywer en produksieleier van die meeste van die snitte, waarvan ook talle deur die destydse SAUK verbied is.
Kruispaaie het gevolg – ‘n album wat in die "onluste" van die middel jare 80 ontstaan het. Die titelsnit, wat verwys na die Kruispad-plakkerskamp, het regstreekse opnames van plakkers se uitsetting bevat. Maar lirieke wat die onruste weerspieël het, is nie in hierdie tyd op radio toegelaat nie. Die Kruispaaie -album het ook liedjies bevat waarvoor die bekroonde skrywer Hennie Aucamp die lirieke geskryf het. Coenie was soos met sy vorige albums die skrywer, produksieleier, klavierspeler en sanger en het die album gevul met ‘n skoon, kraakvars produksiegehalte wat in daardie jare heeltemal ongehoord was in die Afrikaanse musiekmark.
Met die oorgang van die jare 80 na die vroeë 90's het Coenie en sy gesin op die Griekse eiland Ciprus gewoon, waar hy Amper Alleen op Siprus en in Athene, Griekeland, opgeneem het. Amper Alleen was die tweede Suid-Afrikaanse album wat op CD uitgereik is. Op hierdie stiller, introspektiewe album het Coenie saam met van die beste Griekse en Cipriese musikante gewerk, onder wie die bouzouki-speler Elias Elias.
Coenie en sy gesin het na Suid-Afrika teruggekeer na die vrylating van oudpres. Nelson Mandela en die ontbanning van die ANC. Hy reik vervolgens die album Hartland uit – ‘n album waarop hy na die donker hart van Suid-Afrika kyk en wat ‘n snit insluit waarop Lesley Rae Dowling ‘n besonderse vokale uitvoering lewer.
Mountain Records reik daarna twee van Coenie se albums uit. Eerstens, Karoonagte met verskeie nuwe snitte en gunstelinge wat hermeester is. Die titelsnit van Karoonagte is Coenie se bekendste liedjie en een wat reeds klassieke status in die Afrikaanse liedjieskat ontvang het. Die tweede een, Liefdesversies , is ‘n versameling van Coenie se beste liefdesballades.

Coenie se volgende albums word deur JNS Musiek uitgereik. Die eerste, Ek wens , is ‘n kragtige album met sangers en musikante soos Amanda Strydom, Laurika Rauch, Sipho Gumede, Lucas Maree en die groep Jubilee 5 van die Oos-Kaap wat saam met hom werk. Die album toon ‘n hernude selfvertroue deur die bedrewe sanger-liedjieskrywer en die titelsnit asook Lied van die exiles word gou gunstelinge.

Sy volgende album, Solo , is voor ‘n gehoor in die klankateljee opgeneem en spog onder meer met die talent van die groep Blood, Sweat & Tears se trompetspeler, Bruce Cassidy. Coenie werk saam met Johan Laas aan die produksieleiding, wat ‘n konsertgevoel bied. Een van die hoogtepunte van die CD is Coenie se hartroerende weergawe van die Suid-Afrikaanse groep Bright Blue se immergroen treffer, Weeping .
 Sy volgende album, Hooglied , is vervaardig met die produksietalent van Harold Schenk, wat die produksieleier was vir die internasionale trefferalbum deur Coleske. Op Hooglied sing Coenie ook in Engels met die Afrika Mamas wat ‘n unieke tekstuur aan die sang bied. Coenie steek ‘n verdere grens oor deur die hiphop-groep Brasse Vannie Kaap (BVK) te gebruik vir die tweetalige weergawe van Desiderata . Die album word besonder goed deur die resensente ontvang.
Sy volgende album, Zen , weerspieël die sekerheid en vertroue van ‘n musikant, sanger en liedjieskrywer wat twee dekades se ervaring agter hom het. Dit is basies ‘n liedjieskrywersalbum met Coenie wat weer eens saam met Johan Laas, Mauritz Lotz en Marius Brouwer die mede-produksieleier is. Weer steek hy ‘n paar grense oor deur ‘n opruiende duet met die Suid-Afrikaanse rocksangeres Karen Zoid op te neem. Die album wen in 2003 die Suid-Afrikaanse Musiekprys (Sama) vir beste kontemporêre Afrikaanse album.
Aan die begin van 2003 reik Mountain Records weer Coenie se eerste album, Skoppensboer , in ‘n spesiale herdenkingsuitgawe op boksstel-CD uit.
Die album wat tot dus ver die meeste opslae en lof van resensente ontlok het, is die akoestiese, unplugged -album, Handgemaak . Die album word in 2004 uitgereik met Suid-Afrika se topverkoper- Afrikaanse sanger Steve Hofmeyr wat saam met Coenie sing. Die album het ‘n crossover -gevoel en spreek tot massa-gehore sowel as die resensente, dermate dat Coenie in 2005 die Suid-Afrikaanse Musiekprys (Sama) vir beste kontemporêre Afrikaanse album wen. Die album word ook vir Huisgenoot se Tempo-toekennings benoem – ‘n prys wat geskoei word op die lesers se keuse.

Coenie se heel jongste album is Weerlig oor die see , wat in 2008 uitgereik is.

Later vanjaar volg die album, Dekade
|