MEER oor Lizz...
DIE VROU IN DIE MAAN
(‘n Moderne, magiese fantasie)
Fiktiewe navorsing het bewys, die mensdom was verkeerd – dis ‘n vrou wat op die maan woon. En sy was nog altyd daar – sien en hoor alles, van die begin van tyd. Deesdae word haar rustige uitpos vertroebel met satellietstasies,radiostasies, tv stasies, selfone, internet, buite ruimtelike wesens, aardse nuuskieriges en die odd ongeskikte meteoriet.
Maar sy bly halstarrig waar sy is. DIE VROU IN DIE MAAN, is ‘n magiese verhaal oor die menslike bestel en die heelal - van bo af gesien.
Op die kop gedraai – aweregs, verrassend, oorspronklik. Dis slim, fyn, astrant, vermaaklik, vol humor, satire, patos en hoop.
BIZZIE LIZZIE
Die gewilde ROOI ROSE rubriek “BIZZIE LIZZIE “ kry nou nuwe klank en kleur op die verhoog.
Lizz Meiring, skrywer en skepper van BIZZIE LIZZIE se slimskerp sêgoed, baljaar baldadig in die splinternuwe eenvroustuk. Dis aweregs, oorspronklik, hartroerend en skreeusnaaks .
Die raakvat temas vanuit die rubrieke, is nou volbloed sketse en karakters – erg eerlik, ongeskik vreugdevol, en warm menslik. Die regie word deur veteraan aktrise en regisseur Annalise Bosch, hanteer. Kosie Smit se fantasie stel en beligting, Coenraad Rall se nuutsgeskepte klankeffekte , omvorm die tydskrif essays, tot ‘n drie dimensionele feesviering van vermaak. Johan Hendriksz is tegniese regisseur, en ontwerper Thomas Thomson kleur in met kostuums.
Bizzie Lizzie is Meiring op haar mespunt skerpste.
Word moontlik gemaak deur Rooi Rose
ELKE ANDER DUIM ‘N DAME
Regie Annalise Bosch
Teks Lizz Meiring
Lizz Meiring se vierde eenvroustuk, ELKE ANDER DUIM ‘N DAME , vertel, vier en satiriseer moderne Suid-Afrikaanse vroue en mans. ELKE ANDER DUIM ‘N DAME is slim, skerp, snaaks, vermaaklik en verassend.
Meiring skep verskillende style in die stuk – van vertelling tot marionette teater tot tango. Die karakters is almal eg, herkenbaar; met ‘n aweregse streep of twee. Daar is die Presidente van Jong Dames Sianied, die neo-politiese kinderstorie, ‘n beduiwelde cupid, ‘n charismatiese koper, ‘n lolita huisvrou, en ‘n vreemde liefdesverhaal.
Groot eksentrieke skoene speel ‘n belangrike rol in die show, en natuurlik verwys die titel – ELKE ANDER DUIM ‘N DAME na Lizz se …mmm… gebrek aan lengte.
LIPPETAAL
Regie Annalise Bosch
Teks Lizz Meiring
In haar vyfde eenvroustuk –“LIPPETAAL” bevraagteken Lizz ‘n krapperige onderwerp : ‘waar eindig selfgelding en waar begin selfsug ? Sê nou net jy is skielik verantwoordelik vir ‘n ander mens, soos ‘n gestremde, byvoorbeeld – moet jy als vir die persoon opoffer ? Nelda, se ouers is doof, sy is die enigste horende en noodwendig tolk in die gesin,wat tot allerlei skreeusnaakse, frustrerende en soms hartseer situasies lei. Die titel “lippetaal “ verwys na die manier hoe horendes praat, met hul monde en die “liplees “ van gehoorgestremdes Die kragtoer, wat al landswyd vol huise getrek het, is propvol misterie, patos, humor en fynspot – dis warm, aards, aweregs en verassend.
Vir meer inligting oor Lizz en haar optredes besoek
www.lizzmeiring.co.za |