MEER oor Sarah...
Sarah Theron is bekend as die “Vurige Diva” in Suid-Afrikaanse musiekkringe. Sarah het letterlik vlam gevat met ons inheemse style en musiek en nou is sy "DiVA RSA".
Sarah Theron se stem is uniek. Sy gebruik haar warm, lae klanke om uiting te gee aan 'n eiesoortige vertolking van verskeie musiekstyle.
Sarah sing al 24 jaar lank voor gehore van alle soorte en smake, die laaste 15 jaar ten volle professioneel. Haar werk strek oor baie genres - uitgevoer in orkesoptredes, pantomimes, musiekblyspele en kabaret. Sy het waardevolle ondervinding opgedoen in die eerste 5 jaar van haar sangloopbaan deur amper uitsluitlik buitelugoptredes saam met "live bands" te doen. Dit verduidelik dalk waarom Sarah ewe tuis is met Rock, Jazz, Pop, Gospel, Blues en selfs Kunsliedere!
Hoogtepunte in haar loopbaan is dan net so uiteenlopend: YET ANOTHER FAT LADY SINGS (FNB Vita Toekenning), sowel as DUET TO ME ONE MORE TIME (met Rory Rootenberg ), UP & COMING ('n Didi Kriel Produksie), NUNSENSE (vir Peter Toerien), RETURN TO THE FORBIDDEN PLANET, SERIAL STOEPTANNIES LIVE (met Heidi Edeling; aangewys as een van die Top Tien / KKNK '96),
SHOPRITE CHECKERS WOMAN OF THE YEAR 1999 & 2000, die pryswenners LIFE IS BEAUTIFUL (met Charl van Heyningen), HUISGENOOT SKOUSPEL 2002, ROOI ROSE AL DAAI JAZZ, Café Boerlesque (met Soli Philander & Pedro Kruger) en oor die afgelope 5 jaar met haar eie produksies, SARAH THERON: VURIGE DIVA, SUIWER SARAH, KISS MY JAZZ, Sarah Theron: SOLO, en nou ook DiVA RSA.
Sarah is ook in 2004 & 2005 gesien in die verhoog-sitkom OP DIE VROU AF (saam met Pedro Kruger) en ROOMKOEKE (saam met Heidi Edeling). Laasgenoemde twee produksies is geskryf en geregisseur deur Hennie van Greunen. Gedurende 2005 het Sarah 'n regte "Kaapse band", ONKRUiD op die been gebring. Tot en met einde 2006 het sy uitsluitlik saam met hulle opgegtree. Nou dis tyd vir nuwe weivelde en so is DiVA RSA gebore.
‘n Paar jaar terug het sy ook die sepie-mylpale verskuif met haar vertolking van BABY BOTHA in Franz Marx se EGOLI Plek Van Goud . Daar en dan het Sarah 'n CD-kontrak met BMG Africa gesluit op hulle tiende verjaarsdag en EGOLI VOLUME 1: SARAH THERON (SAMA & GERAAS nominasies vir beste Jazz album)
Sarah was nog altyd vervaardiger van haar eie musiekproduksies, maar het haar onderskei in hierdie genre met BOLAND & BEYOND in 2004. Hierdie produksie was in opdrag van die WOORDFEES op Stellenbosch, en het Pedro Kruger, Sarah & ONKRUID en DNA Strings se beste werk ten toon gestel! Sarah word toenemend bespreek om funksies te doen vir sogenaamde “gemengde” gehore. Sarah het ware “cross-over”-vermoë, omdat sy die musieksmaak van ‘n wye groep aanspreek.
Na ‘n stewige loopbaan in die musiekbedryf van Suid-Afrika, is daar min kunstenaars en orkeste met wie sy nog nie saamgewerk het nie. Haar kollegas is “hand picked” om net die beste produk te lewer, hulself altyd op‘n professionele manier te handhaaf. Dit beteken nie hierdie ouens (en dames) het nie ‘n sin vir humor nie. Hulle is wel deeglik daarvan bewus dat hulle ambassadeurs is vir hulle produk én die kliënt aan wie hulle die diens lewer. Sarah geniet die vennootskap van ‘n lang lys kunstenaars wat haar vertrou om organisasie en medewerking van hoogstaande gehalte te lewer.
Sarah is nou ook Musiekregissieur. Sy was die hele winter van 2006 besig met “TREFFERS VAN DIE SONJARE”, ‘n Sonja Heroldt konsert by ROXY REVUE BAR in die GRAND WEST CASINO. Sarah het haar Kaapse orkes gebruik om Sonja se musiek te laat lewe in haar aanhangers se ore.
Sarah sê:
“Sing is my passie en medisyne. Daarsonder kan of wil ek nie!”
Sarah se nuwe album - Sit die ketel aan - is beskikbaar vanaf Januarie 2008.

Sarah Theron se splinternuwe CD en konsert, SIT DIE KETEL AAN, gaan haal die verwantskap tussen AFRIKAANS en DIE RITME-&-BLUES van waar hy kom. Die titel SIT DIE KETEL AAN, is juis 'n sêding van haar suster, Johanna, wat gewoonlik laat weet hulle "is om die draai, sit solank die ketel aan." Hierdie musiek is op die tong van die volksmond en uit die hart van 'n Boere-Diva. Sarah se nuwe songs is die resultaat van trotse samewerking van Suid-Afrika se voorste Afrikaanse liedjieskrywers. Wouter van de Venter, het die ritmiese EK SOEK JOU HIER BY MY geskryf. Daar is werke van Rian Swanepoel (ENGEL Oë), Fredi Nest (MY OUMA SêRA), Johan Groenewald (DIE WINDPOMP), Alistair van Huyssteen (KOM ONS NEUK DIE WêRELD OP) en Andries Botha. Drie nommers het Sarah saam met Andries gepen (DIRKIE, DAAI BLOU KITAAR EN SIT DIE KETEL AAN). Die afgelope maande het Sarah ook al hierdie liedjies gesing as Baby Botha in EGOLI. Met haar rokerige altstem, vleg Sarah prentjies en stories aanmekaar, wat jou laat verlang na dinge lank gelede en mense wat jy nog moet ontmoet!
"Afrikaans klink so lekker as ons dit sing oor die stewige rock & roll blues-vorms van die pioniers van ons musiekwortels. Afrkaans verstaan van stofpaaie en droogtes, hartstogtelike liefde en 'n man wat mooi lyk in sy denimbroek," sê Sarah. "Dis soos om tuisgemaakte vyekonfyt te eet, of patats in die warm as van 'n vuur te bak. Tuis, maar ook baie exiting!
Hierdie Blou-Kontrei-Volks-Ruk-en Rol is deel van wie ons is en deel van ons warm hartklop as Afrikaanses. Ons het die passie, die ritme en die geloof aan ons herkoms. Musiek laat ons opnuut onthou wie en wat ons is.
SIT DIE KETEL AAN. GOOI 'N IETSIE BY VIR DIE PAARTIE. Lekker & gesellig.
SHOWS
Sarah is ‘n veelsydige kunstenaar en kan spesiale pakkete skep indien nodig.
DIVA.RSA
Dink jy 'n Diva is 'n stewige tannie wat net 'n sekere soort tee drink teen 'n net-so temperatuur uit 'n koppie uit Ingeland?
Of dalk eet sy net spanspekke uit Jamaika met 'n silwer lepeltjie wat dateer uit ou Rusland.
Ag nee wat, dis nie wat 'n diva is nie.
Nie vir Sarah Theron nie en beslis nie in Suid-Afrilka nie. "'n Diva, sê Sarah, is 'n voortrekkermeisie wat die blues ken, 'n vrou wat weet hoe om gras te sny en huis te verf. Sy trek maar net 'n cocktail nommertjie aan as sy konsert hou, dis al."
Sarah se Diva. RSA is nie vol fiemies nie. Sy ken haar plek, maar sy ken ook haar kragte. Sy's 'n size 40 vrou, wat dink sy's Barbie. Sy loop konstant in tafelhoeke vas, want sy voorsien geen probleem om deur die kleinste skrefie te beweeg nie. Dis alles in haar kop, jy sien. Sy's 'n godin. "n Skepper van warm atmosfeer en 'n baarder van kinders. Dis wat 'n DiVA. RSA is.
En Sarah is so 'n meisie. DiVA RSA het grootgeword op moerbeie en melkkos, Frikadelle en die sappigste vye. Sy weet hoe om 'n spaarwiel om te ruil terwyl sy seker maak net so bietjie van haar onderrok steek uit - net ingeval! DiVA RSA is 'n meisie wat wragtig nie bang is om 'n noot te vat nie.
Sarah het die formidabele Lynne Poulsen nadergetrek vir hierdie splinternuwe konsert. Lynne is Suid-Afrika se "mother - klavierspeler" wat kan sing soos 'n oorlogsirene en die kleinste mossietjie gelyk. Saam sal hierdie nooiens jou sleep deur die blouste musiek tot anderkant uit. Hierdie konsert werk soos 'n full body massage. Mens wil sommer jou lewe oor begin en goed wees vir jouself.
Wees gewaarsku. Jy mag dalk DiVA-karaktertrekke openbaar na afloop van die vertoning.
DETAIL OOR ANDER SHOWS BESKIKBAAR OP NAVRAAG.
|