Helenè Bester het grootgeword in Springs en matrikuleer ook daar, aan die Hoër Meisieskool Hugenote in 1994.
Daarna het sy B.Bedryfskommunikasie gaan studeer op die (destydse) PUK en haar honneurs in radio-joernalistiek verwerf. Tydens haar studente-jare, was sy lid van die Alabama-studentegeselskap, asook die PU-koor.
Helenè is vanaf 1999 'n bekende gesig by kunstefeeste. ‘n Paar van die vertonings wat sy al by kunstefeeste opgevoer het, is: “Wie is Sarie Marais?”, “Om die kaggel is 'n huis”, “Wens”, “Liefdesvuur”, “DRIE”, “Twee-dimensioneel”, “Vars water” en “Oorgee”.
In 2002, is sy “raak gehoor”, deur Sarel Myburgh (toe hoof van RSG), tydens die KKNK. RSG het vir haar radio-speeltyd gebied en Select Musiek het vir haar 'n platekontrak aangebied.
Sedertdien het Helenè 3 cd's vrygestel: “WENS”, “HOU VAN JOU” en “OORGEE”. Laasgenoemde is einde 2007 vrygestel deur Select Musiek.
Sy's trots om te sê dat sy al die verhoog kon deel met bekendes soos: Jak de Priester, Chris Chameleon en Juanita du Plessis. Sy't al duette gesing saam met: Jannie Moolman, Rina Hugo en Kurt Darren.
Helene Bester se nuutste album - Grootste Treffers - is in Oktober 2009 vrygestel.
Haar musiek is ‘n positiewe klankprentjie oor die liefde en die lewe .
Met ligte ritmes, sorgelose vrolikheid en innige hartstog. Die melodieë is luisterryk en die lirieke is gepoets met omgee en deernis.
Op die album Grootste Treffers bied Select-Musiek die gewildste werk van haar vorige drie albums.
Sy bekoor met haar suiwer fluweelstem en sy vertolk met innige oorgawe. Dié versameling sluit ook twee splinternuwe snitte in wat reeds die trefferstempel dra: 10 minute (deur Johan Oberholzer en Neil Schoombee) en Ek wou jou gesoen het (met lirieke deur Sarah Theron) wat reeds die trefferstatusstempel dra.
En dan luister ‘n mens met onwillekeurige afwagting na die twintig ander liedjies hierop – en oponuut word jy bewus van die prag van komposisies soos Pappa, Oorgee, Mansmens van my, Hierdie dag, Wens, Maatjie mater, Hou van jou, Soos die winde waai en ‘n rits ander.
Die album is ‘n toonvenster van haar talent en musikale integriteit; ook as liedjieskrywer. Hiermee bederf sy haar ondersteuners en sy stel ander luisteraars bekend aan die mooiste, sonnigste musiek op CD.
Vir meer inligting oor Helene en haar optredes – besoek www.helenebester.co.za
|