MEER oor Jolette...
Jolette Odendaal het begin sing op die ouderdom van nege. Sy het aan die Hoërskool Pro-Arte in 1993 gematrikuleer waartydens sy die Dalro Nasionale Toneelspel kompetisie gewen het. In dieselfde jaar het sy ook “Crescendo” gewen in die kategorie: dames vokaal.
Sy het haar drama graad behaal aan die Universiteit van Pretoria, en in 1997 haar honeurs graad voltooi. Jolette het die professionele musiekbedryf betree toe sy in 1994 begin sing het vir die welbekende a capella groep “Cutt Glas”. Behalwe vir “Cutt Glas” het Jolette ook opgetree in verskeie teater produksies soos: “Aspoestertjie”, onder die regie van Pierre van Pletzen, “Brolloks en Bittergal” en “Spook van Donkergat” deur Hannes Muller en Lizz Meiring. In 2003 span Jolette kragte met Ian von Memerty, Harry Sideropoulos, en Ilse Klink in die lokettreffer “Big Band Blast”, by die Nelson Mandela teater in Johannesburg . Jolette is vir hierdie produksie genomineer vir ‘n Naledi toekenning. Tydens die Oudtshoorn Kunstefees in 2004 is Jolette ook genomineer vir twee Kanna toekenings: beste speler in ‘n musiekblyspel vir “JillJol”,onder regie van Sandra Prinsloo, en “Hartedief”, deur Jeanne Goosen onder regie van Lizz Meiring.
By Aardklop 2005 het Jolette gewerk aan twee opwindende stukke, “Pols” met Henrietta Gryffenberg, en “Imbumba” saam met Anna-Mart van der Merwe en Gys de Villiers. Einde 2005 het Jolette as gaskunstenaar opgetree in Harry Sideropoulos se “Songs from the Mediterranean ”. Gedurende dieselfde jaar het sy ook uit die groep “Cutt Glas” getree om op haar solo loopbaan te fokus.
Haar eerste solo album getiteld “Jolette” is in Februarie 2006 vrygestel.“Jolette” bevat vars verwerkings van bestaande liedjies (“La vie en rose”- Piaf, “Gypsy”- Mynie Grové, “In Your Eyes”- Peter Gabriel en “Pata Pata”- Miriam Makeba ), asook oorspronklike materiaal, waarvan die lirieke en musiek deur Jolette self geskryf is. Die album is opgeneem by Robin Walsh se ateljee, en die produksie is behartig deur Mauritz Lotz. Van die land se top musikante soos Annake de Villiers, Matthys Maree, Lieb Bester en ook die kontroversiele Francois Henning (Snotkop) het ‘n bydrae gemaak tot die sukses van hierdie album.
Jolette en Mauritz Lotz bring in Maart 2009 'n nuwe album uit - genaamd Kamers!
Vroeg in 2008 het “Spitfire Records” Mauritz en Jolette genader om ‘n album vir hulle op te neem. Hulle konsep was om van die grootste Afrikaanse treffers deur die jare weer op te neem in Mauritz en Jolette se kenmerkende styl, en so is die idée gebore.
Dit was ‘n groot uitdaging om die materiaal uit te soek, aangesien daar al so baie treffers is. Die uniekheid van hierdie album lê in Mauritz en Jolette se vars aanslag op bestaande liedjies, en met nuwe verwerkings trek elke liedjie ‘n ander baadjie aan om in te pas by die twee kunstenaars se eiesoortige styl. Met Mauritz op kitaar, Jolette se stem en David Klassen op perkussie, beloof hierdie album om grense te verskuif.
Die titel “Kamers” vorm deel van die konsep-album. Die liedjies word in verskillende kamers geplaas wat sekere emosies by mens prikkel. Van kuier, lag en samesyn, tot rustig, eensaam, hartseer en na binne keer. Fases in elke persoon se lewe, tot in die kamers van jou hart. Hierdie konsep is geinspireer deur Amanda Strydom se liedjie “My Kamer” wat ook ‘n snit op die album is.
Die snitte op die album sluit in: “Ek verlang na jou”-(Anton Goosen), “Blou”-(Andrê Zwiegers), “Namibsroos”-(Theuns Jordaan), “Gypsy”-(Mynie Grovê), “Jou Skaduwee”-(Juanita du Plessis), “Sonneblom uit Betlehem”-(Lize Beekman), “Gatswaai”-(Anna Davel), “Karoonag”-(Coenie de Villiers), “Ek loop die pad”-(Amanda Strydom), “Hemel op Tafelberg”-(Kurt Darren), “Waterblommetjies”-(Anton Goosen), en “Somer”-(Johannes Kerkorrel).
Vir meer inligting oor Jolette en haar optredes - besoek
www.jolette.co.za
|